Sosiale media

Die snelle opkoms van sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en YouTube laat ’n mens wonder hoe lank dit entrepreneurs gaan neem om dié wonderlike netwerkgeleenthede ten volle te benut.

Navorsing deur mnr. Rudolph Muller van MyBroadband wat einde 2009 gedoen is, het gewys dat kleinsakeondernemers toe reeds in ’n toenemende mate van sosiale netwerke gebruik gemaak het om hul ondernemings te bevorder.

Dieselfde navorsing wys die gemiddelde ouderdom van Facebook-gebruikers in Suid Afrika as 33, Twitter en You­Tube s’n is 31 en MySpace is 32 jaar. Duidelik word hierdie netwerke nie net meer deur tieners gebruik nie.

Die vraag kan dus tereg gevra word wat dan nou van die tradisionele netwerkgeleenthede vir sakeondernemers, soos sakekamer-byeenkomste en sakeklubs?

Het dit in die moderne sakeomgewing nog enigsins bestaansreg?

Ek glo dieselfde vraag word al sedert 1599, toe die eerste sakekamer in Marseille, Frankryk gestig is, gevra.

Sekerlik moes sommige van die 5 000 lede van die sakekamer in die stad Manchester, Engeland, al gevra het of hulle nie dalk te groot is en of die individu werklik ’n rol het in so ’n groot organisasie.

Sakekamers, of soos ook genoem die plaaslike kamer van koophandel, het oor die eeue ’n belangrike rol gespeel waar individue met gemeenskaplike belange gereeld bymekaar kom om inligting uit te ruil, voorstelle te maak om die dorp of stad se sakeomgewing te verbeter en om mekaar beter te leer ken.

Anders as in die korporatiewe wêreld, waar lidmaatskap by sakeklubs en -verenigings aan die orde van die dag is, word dit soms by die kleiner saak afgemaak as " ’n mors van tyd” en word die onregverdige vraag gevra: "Wat kan die sakekamer vir my beteken?”

Die vraag behoort eerder gevra te word wat jy as sakeondernemer vir die sakekamer, die dorp en die sakegemeenskap kan beteken, want as die gemeenskap vooruitgaan en daar kollektief ­geslaag kan word om beter en meer sake te doen, sal die individuele sake ondernemer tog ook daarby baat vind.

Omdat kleiner ondernemings dikwels op ’n spreekwoordelike "eiland” funksioneer, behoort die onafhanklike sakeondernemer juis soveel moontlik kontakte op te bou wat sy netwerk van geleenthede sal versterk.
Lidmaatskap aan die een of ander relevante sakekamer, vereniging of professionele organisasie is beslis nie net om sosiale redes nie.

Dit is hier waar visitekaartjies uitgeruil, nuwe geleenthede geïdentifiseer en transaksies gesluit kan word.

Betrokkenheid by so ’n kamer beteken ook nie net om maar die byeenkomste by te woon en te gaan luister na wat die ander lede te sê het nie.

Niemand is ooit te oud om te leer of te jonk om insette te lewer nie. Gebruik die byeenkoms om ’n verskil te maak – die sakegemeenskap, wat jou insluit, het innoverende voorstelle nodig.

In die proses slaag jy dalk net daarin om jou en jou onderneming onder die aandag van die res van die sakegemeenskap te bring en dat daar met nuwe oë na jou gekyk word.

Die op en wakker entrepreneur sal van elke skakelgeleentheid ’n sakegeleentheid maak.

Of dit nou ’n sake-ete, sakekamerbyeenkoms of gholfafspraak is, daar sal altyd gesoek word na geleenthede om die onderneming te bemark.

- Prof. Du Plessis is die direkteur van die Potchefstroomse Besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit waarby die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings ingelyf is.

Nuutste Kommentaar

No comments available.

Nuwe gebruikers

  • andriesbrink
  • admin

Meningsopname

Kan ons Johannesburg baat vind deur e-tol
Is julle laf
100%
Ons het al klaar
0%
Begrawe dit
0%
Total votes: 1