Moneyweb onderhoud met Andries Brink: Voorsitter

Hierdie onderhoud was op RSG, sowel as op Moneyweb.co.za

Andries van Zyl gesels met Andries Brink, voorsitter van die Groter Johannesburgse Sakekamer.

Inleidende sin: Andries van Zyl gesels met Andries Brink, voorsitter van die Groter Johannesburgse Sakekamer, oor sy betrokkenheid by die organisasie, die rol wat hy daar vervul, die grootste probleem waarvoor hy te staan kom en die voorvereistes vir hierdie invloedryke pos.

Andries van Zyl: Moneyweb, wat verantwoordelik is vir RSG Geldsake, begin vandag met ’n nuwe potgooi-reeks met sakeleiers waarin ons met finansiële en sakevoorsitters gesprek voer. Die onderhoude, getitel Hoër Esjelon, word in video- én klankformaat op die Moneyweb-webtuiste geplaas. Om die klankgreep te beluister, gaan na www.moneyweb.co.za. Om die video te bekyk, gaan na youtube.com/moneyweb. Ons gas in hierdie Hoër Esjelon-gesprek, wat op Woensdag, 2 Mei 2012, opgeneem is, is Andries Brink, voorsitter van die Groter Johannesburgse Sakekamer. Goeiedag, Andries, en welkom by RSG Geldsake en Moneyweb.

Andries Brink: Goeiemiddag, Andries, en baie dankie dat ek hier kan wees.

Andries van Zyl: Voor ons oor Andries Brink praat, wie en wat is die Groter Johannesburgse Sakekamer?

Andries Brink: Wel, Andries, die Groter Johannesburgse Sakekamer is die oudste sakekamer in Johannesburg. Ons kyk na die hele Johannesburg, basies, en so dít is waar die “Groter” vandaan kom. En ons is ’n Afrikáánse sakekamer, inklusief Afrikaans, so ons is nie téén enige ander tale of so nie, maar ons is ’n huis vir Afrikaanssprekende besigheidsmense, in Johannesburg.

Andries van Zyl: Hoe skakel die Groter Johannesburgse Sakekamer in by die breër opset van die georganiseerde sakesektor?

Andries Brink: Ja, in terme van georganiseerde sakelui het ons natuurlik ’n klomp lede wat deel uitmaak van daardie groepering. So, ons het baie genoteerde maatskappye wat deel is van ons Kamer. Jy weet, groot maatskappye, Absa, PWC, en so meer, is deel daarvan en ons skakel dus in dáárdeur. Ons organiseer ook dan baie dinge vir sakelui, en so speel ons’n rol by die organisering van sakelui, sou ek sê.

Andries van Zyl: Dan is daar ook die sambreelorganisasie waarby julle betrokke is, die Afrikaanse Handelsinstituut, wat op sy beurt weer by ánder sambreelorganisasies betrokke is.
Gee net vir ons die uiteensetting daar?

Andries Brink: Dis reg. Die Sakekamer speel ’n rol op dorp- of stadsvlak dan nou tipies en die AHI is ons nasionale verteenwoordiging. So die AHI speel meer op ’n nasionale vlak ’n rol. Johannesburg is natuurlik ’n groot stad, en ’n baie belangrike handelstad, so ons, as ’n kamer, is ook, jy weet, gereeld betrokke by meer nasionale dinge, maar as ’n reël is die AHI die nasionale verteenwoordiging. Ja, dis korrek.

Andries van Zyl: Kom ons praat oor Andries Brink, kortliks, van waar en wat is jou posisie in die sakewêreld, behalwe nou jou betrokkenheid by die Groter Johannesburgse Sakekamer?

Andries Brink: Ja, die Sakekamer is natuurlik, jy weet, iets wat ons doen om terug te gee vir die gemeenskap. So, dit is totaal en al, jy weet, iets wat ons doen op ons eie tyd. Ek self is besturende direkteur van ’n maatskappy wat ek begin het, so drie en ’n half jaar gelede. So, ek is ’n entrepreneur. “Andile” is my maatskappy se naam. Ons doen installering en ontwikkeling van rekenaarsisteme vir groot handelsbanke. So ja, dis eintlik heeltemal onverwant aan ’n sakekamer, maar dit is wat ek doen vir die gemeenskap, is die Sakekamer.

Andries van Zyl: So, hoe’t jy by die Sakekamer beland?

Andries Brink: Hoe beland énige mens êrens? Jy weet, jy’t ’n vriend wat jou nooi en sê jy behoort iets te doen. Ek het ’n vriend gehad wat op daardie stadium op die bestuur gedien het en gesê het... Ek dink sy woorde aan my was: “Besighede reguleer hulleself nie, mense moet ’n bydrae lewer. En jy’s een van daai mense.” En ek het toe gereageer daarop en ek het begin as ’n lid. Ek het aangesluit by die Sakekamer as ’n gewone lid. Ek is toe in die volgende jaar verkies tot die bestuur, en dit was so vyf jaar gelede. So, ja, dis maar die tipiese proses.

Andries van Zyl: Nou, jou rol as voorsitter van die Sakekamer; dié verskil nogal van ’n gewone maatskappy-voorsitter. Hoe lyk die bestuurstruktuur van die Sakekamer en hoe word dit dan saamgestel as ’n mens dit met ’n maatskappy, die maatskappy-omgewing, vergelyk?

Andries Brink: Ja, ek dink dis heeltemal anders, Andries, in ’n sekere sin. Ons het natuurlik ’n konstitusie wat ons beheer. So, ons hét ’n konstitusie, soos ’n maatskappy, maar wat dit hééltemal anders maak, is die feit dat almal vrywilligers is. So daar’s nie enigiemand wat salaris trek in ’n rigtinggewende hoedanigheid nie, in ’n bestuurshoedanigheid nie. So, ons bestuur is baie eenvoudig; ons het ’n voorsitter, twee ondervoorsitters. Die ondervoorsitters is tipies dan die vorige voorsitter en dan die ondervoorsitter wat waarskynlik gaan oorneem by die voorsitter in die volgende termyn. En dan’t ons ’n, jy weet, maar ’n dagbestuur en dan ’n hele klompie bestuurslede wat vir spesifieke portefeuljes verantwoording doen.

Andries van Zyl: So, kom ons kyk dan: jy’t gepraat van portefeuljes; enkele, net enkeles van die hooffunksies van die Sakekamer; waaraan wy julle julle tyd, en wat is jóú rol dan as voorsitter daar?

Andries Brink: My rol, sou ek sê, is... Ek dink die rolle het verander oor tyd, soos besigheid verander, soos wat ons omgewing verander. Maar my rol op die oomblik is, sou ek sê, is absoluut in ’n raadgewende hoedanigheid, en in ’n motiverende hoedanigheid. Die spesifieke portefeuljes wat ons het, is: ons is maar baie bedrywig in die gemeenskap, so ons doen byvoorbeeld baie ontbyte, waar ons dan oor aangeleenthede praat wat belangrik is. So, ons het, een van ons bestuurslede sal dan byvoorbeeld verantwoording doen rondom dit. ’n Voorbeeld daarvan is die Sakekamer se jaarlikse begrotingsontbyt, was pas nou gewees, met die begroting, of twee maande gelede. En ons het die langste, ek dink ons is al elf jaar aan die gang met die jaarlikse begrotingsontbyt. Wat ons dan spesifiek die volgende oggend ná die begroting doen, is om aan ons sakelui terugvoer te gee rondom die begroting. So dis ontbyte. Ons doen ook nou, binne die volgende maand, ek is nie heeltemal seker van die datum nie, doen ons byvoorbeeld ’n politiese ontledingsontbyt, wat ons vir Eusebius McKaiser kry om bietjie te kom gesels met ons mense oor wat aan die gang is polities en hoe dit besighede raak. En, jy weet, so, ons probeer om baie gestruktureerde ontbyte te hou wat interessant is vir ons mense. Dan is ons... jy weet, ons doen gereeld netwerk-tipe aangeleenthede. En dan, ’n bestuurslid is natuurlik daarvoor verantwoordelik. So, ons probeer om ons mense bymekaar te kry. ’n Baie groot netwerkaangeleentheid is natuurlik ons jaarlikse gholfdag, wat ons hierdie jaar, het ons die voorreg om by Serengeti te wees ’n dag voordat die Suid-Afrikaanse Ope die baan toemaak daarvoor. Ons is die laaste veld wat deur Serengeti gaan, so ek dink dit gaan fantasties wees! Dit is altyd baie goed.

Andries van Zyl: Kom ons kyk na jou rol as voorsitter, so in die Sakekamer-omgewing, in die omgewing van die georganiseerde sakesektor. Wat is vir jou die grootste uitdagings daar?

Andries Brink: Weet jy, tyd! Ons lede het nie tyd nie. Ons sukkel om te gesels met die mense en die diepte-tipe gesprekke wat ons wíl fasiliteer, om dáár uit te kom, by daai breekpunte. Dit is ’n funksie van Johannesburg. En ons het nie altyd genoegsame tyd om rêrig in diepte te gesels met wat dit is wat ons lede pla nie. En wat dit is wat ons lede wil sien nie. En watter tipe bydrae hulle wil lewer. En, natuurlik, die tipe lid wat ons het, of die verteenwoordiging van ons lede, is op ’n hoë vlak. So, dis almal besige mense en ek sou sê dis ons grootste enkele ding om groot dagboeke bymekaar te kry sodat mense kan bymekaar kom en werklik praat oor dinge wat belangrik is. So, dis my belangrikste rol, is om te gesels, om aan te hou met praat, om te kommunikeer met die regte mense op die regte vlak, spesifiek rondom ons lede, want ons belangrikste...

Andries Brink (vervolg): ons rede hoekom ons bestaan, is om ons lede te verteenwoordig op die intervlakke wat ons dan het, formele intervlakke. Een van daai intervlakke, Andries, is byvoorbeeld, ons sit op ’n maandelikse basis, sit ons met “the City of Jo’burg”. Jy weet, ons sit op wat genoem word die “Johannesburg Business Forum”, en dít is ’n forum waar ander sakekamers, Engelse kamers, en ook baie kleinere tipe organisasies maandeliks sit en met die Stadsraad gesels en sê, jy weet, hierdie pla ons, hierdie is goed, hierdie wérk, hierdie werk nié. Die Stadsraad lewer aan ons voorleggings en sê: “Dít is ons planne, dít is hoe ons hierdie deel van die stad wil uitbrei, dít is hoe ons kommunikasie wil verbeter, dít is ons paaieplanne, en so meer.” En, so, ons sit dan met die onderskeie afdelings binne-in die Stadsraad en ons gesels met hulle en ons gee bydraes. En ons sê wat ons pla en ons sê waarvan ons hou en ons maak voorstelle.

Andries van Zyl: Jy’s nou al geruime tyd in daardie voorsitterstoel – spesifieke eienskappe wat jou help om, amper sê ek nou “om die job te doen”, om die rol en die verantwoordelikhede, die funksies wat jy het, om dit behoorlik na te kom, of so goed as moontlik?

Andries Brink: Ja, Andries, ek weet nie... Ek dínk die interessante... Ek sou sê ek wil eerder die vraag beantwoord deur te sê: ek dink die Sakekamer het my gekies omdat ek jong besigheid verteenwoordig. Jy sien, wat ons sien in ons demografie rondom lede is dat ons het baie jong, nuwer maatskappye wat deel word van die Kamer. So ja, ons hét nog ons ou lede en ons gevestigde lede en groot besigheid, wat ons baie dankbaar voor is en wat werklik fantastiese insette lewer, maar ons sien dat ons nuwe lede is tipies nie groter organisasies nie, en ek dink dit is ’n weerspieëling van wat aan die gang is in die Afrikaner-kultuur, die Afrikaanssprekende kultuur. Jy weet, dit is een van mense wat besig is om kleiner besighede te vestig om vooruitgang te maak. En, so, ek dink in ’n sekere sin was ek ’n keuse vir die bestuur omdat ek dit redelik verteenwoordig, jy weet. Ons het ’n kleinerige of ’n medium-grootte waarskynlik nou nuwe besigheid gevestig in 2008. Ons was entrepreneuries en ons verteenwoordig werklik wat ek as entrepreneur definitief dink Suid-Afrika nodig het. En dit is jóng entrepreneurs wat vasvat en sê: “Kom ons maak iets, kom ons bou iets wat die moeite werd is en wat kan staan!” So, om jou vraag te beantwoord, ek dink dit is wat die Sakekamer gevoel het hoekom ék die voorsittersrol behoort te vertolk. Ek is in my tweede jaar nou as termyn en ek sal afstaan, redelik binnekort. En ja, so wat my spesiaal maak, is waarskynlik maar die feit dat ek ’n klein besigheid het, Andries!

Andries van Zyl: Andries, ’n voorsitter van ’n organisasie kan gemaak of gebreek word deur ’n hele groep ánder mense wat direk betrokke is by die organisasie, of indirek, onder andere medebestuurslede. Waarna soek jy by ’n medebestuurspan, by ander mense wat jou omring, wat jou ondersteun, om te sê: “Dis die tipe mens wat ek nodig het as voorsitter om my te help om my werk doeltreffend te kan doen.”

Andries Brink: Ons kan nie, jy weet, as ’n vrywillige organisasie, kan ons nie... Ons móét funksioneer op absolute vertroue. En, met ander woorde, as ek ’n taak uitdeel, dan... Ek het eenvoudig nie die kapasiteit om gedurig navraag te doen en so aan nie. So, die eerste ding wat ons na kyk, is absolute vertroue. En dit is iets wat gekweek word, dit is iets wat gebou word deur verhoudings wat vir ’n geruime tyd staan. So die Sakekamer tree effektief op as ’n familie, in ’n sekere sin. Jy weet, ons is baie naby aan mekaar en ons praat baie. En ek dink dit is die belangrikste ding, is dat daar ’n geskiedenis is van dienslewering, jy weet, vir die Sakekamer. Dit is nie ’n algemene ding nie, ek dink mense wat in die Sakekamer dien, dit is ’n absolute diens wat ons lewer. Jy weet, dit is glad nie vir persoonlike gewin nie. Ek dink daar’s baie mín gewin, behalwe die satisfaksie wat dit ons gee om te géé. So, ons kyk daarna, as ’n primêre rol, en dan natuurlik: invloed. Jy weet, ons het byvoorbeeld die ATKV wat dien by ons, dis een van die stigterslede van die Kamer, en dis werklik wonderlik om, as ’n voorbeeld, daar’s baie ander sulke voorbeelde, maar as ’n voorbeeld met die ATKV in te skakel en te sê: “Jy weet, ons het ’n groot, ons het ’n lentebal.” (Ons doen jaarliks ’n lentebal, dis een van ons groot suksesse.) “En ons het ’n paar kunstenaars nodig. Kan julle iemand gee?” En dan praat ons, dan bel ons vir Gerrie wat saam op die bestuur dien, en die goeters word gereël, en dis gedoen. So, jy weet, dis ’n kombinasie van absolute vertroue en dan mense wat werklik iets kan bring, wat die Kamer maak funksioneer.

Andries van Zyl: Andries, hoe belangrik is doelgerigte en effektiewe deelname van sake-instellings, soos nou die Sakekamer, vir jou as voorsitter by landsake? Gegewe die omstandighede in Suid-Afrika, waar ons al hoe meer groter burgerlike betrokkenheid sien by die dag-tot-dag-landsake, en selfs by die manier waarop die regering die land bestuur.

Andries Brink: Ja nee, dis krities, Andries! En ek dink dit is hoekom dit vir ons as ’n kamer op hierdie tydstip primêr is om veral by Johannesburg betrokke te bly. Jy weet, soos wat ons weet, Johannesburg het geweldige probleme in terme van dienslewering. Ons sien dit natuurlik baie nader, waarskynlik, as die algemene publiek. En jy weet daar’s twee maniere om te reageer, daar’s die manier om te kritiseer, en dan’s daar die manier om betrokke te raak. En ons het gekies om betrokke te raak. Ons praat nie baie daaroor nie, ek dink mens moet besef dat wat ’n mens sê in die media en so aan is baie sensitief. Maar ek kan jou verseker dat agter die skerms is die Sakekamer, tree ons op vir die belang van ons lede, en wyer. En dit is krities. Jy weet, ek dink daar’s ’n, veral onder Afrikaanssprekendes, is daar ’n tendens van apatie, amper, wat sê: Niks gebeur nie en ons praat en ons is amper marginaal, as ’n groepering. Ek dink nie dis waar nie. Ek dink nie dis wat ons sien nie. Ek dink ons kan sien hoe ons ’n verskil maak. Ons kan sien hoedat ons betrokkenheid ’n verskil maak. En ek dink mense moet besef dat deur georganiseerde, jy’t vroeër die vraag gevra rondom georganiseerde besigheid, deur georganiseerdebesigheid-strukture om by betrokke te wees, kán ons beïnvloed, kan kwaliteitmense deur kwaliteit en weldeurdagte raadgewende hoedanighede, kan ’n verskil maak. En ek dink dit is vir ons belangrik, en dit is hoekom ons doen wat ons doen.

Andries van Zyl: Andries, die tyd die haal ons ongelukkig in. Net kortliks, ter afsluiting, prioriteite vir die Groter Johannesburgse Sakekamer hiervandaan en jou siening dan as voorsitter, waar moet die klem geplaas word?

Andries Brink: Sjoe! Dit wat ons op hierdie tydstip najaag, is skaal. Ons wil groter skaal hê, en ek bedoel nie skaal in terme van lede nie, ons het ’n groot ledetal, skaal in terme van deelname. Jy weet, ek dink as ons dít kan regkry, dan gaan ons werklik méér doen en ons gaan baie meer van ons mandaat vervul. Dis my grootste ding, is dat ons sê ons het ’n massiewe mandaat as ’n kamer, en ons het ’n klomp vrywilligers wat fantastiese werk doen, jy weet, régdeur die spektrum. Ek kan voorbeelde noem vir die res van die dag! Maar ons wil werklik hê dat ons sakelui betrokke raak, méér betrokke raak. Jy weet, en werklik bring wat hulle kan tot ’n organisasie wat ’n mandaat het om op te tree in die belang van burgers.

Andries van Zyl: Andries, baie dankie dat jy by RSG Geldsake en by Moneyweb kom kuier het! Voorspoed, en dan anderdag, dan praat ons weer!

Andries Brink: Baie dankie, Andries, dit was lekker.

Andries van Zyl: Dit was Andries Brink, hy’s voorsitter van die Groter Johannesburgse Sakekamer.

Nuutste Kommentaar

No comments available.

Nuwe gebruikers

  • andriesbrink
  • admin

Meningsopname

Kan ons Johannesburg baat vind deur e-tol
Is julle laf
100%
Ons het al klaar
0%
Begrawe dit
0%
Total votes: 1